In die skaduwee. ©
Deur: de Villiers -Serfontein
‘n skets
Chesham, Engeland
Tinah strompel die bult uit en gaan staan
uitasem by die klipgeboude muurtjie. Sy stut haar groot wieletjies-tas teen die
heup-hoogte muur en neem ‘n oomblik om noukeurig haar hele omgewing in te neem.
Elmstraat 58 het die man by die Suid Afrikaanse Ambassade gesê.
Die ou Victoriaanse huisies sit sy-aan-sy
langs mekaar ingepak, weerskante van die straat, tot om die draai. Die
skoorstene staan soos rye torinkies afge-ets teen die ylblou lug. Sy is
dankbaar om blou lug te sien, want vandat sy uit Suid Afrika op
Heathrow-lughawe geland het, was daar maar min sonskyndae. En in die
mistroostige strate van Londen of in die moltrein gange, sien jy in elk geval
min son!
Die afgelope ses maande, terwyl sy au-pair het vir drie onnutsige Engelse
seuntjies, het sy ook weinig kans gehad om regtig eers te soek vir ‘n
sonkolletjie. Saans was sy so moeg, dat daar van pret en uitgaan geen sprake
was nie. Darem het sy feitlik niks van haar hardverdiende ponde uitgegee nie.
Haar dae was gevul met die lekker lag (of huil) van die seuntjies, maar toe
hulle knaende stiefpa haar lewe begin vergal het, het sy na een riller van ‘n
nag, haar goedjies in haar rooi tas ingegooi, en die volgende môre, op die vlug
geslaan.
Deur haar eie pa, ingedrilde
verantwoordelikheid, het sy haarself nie toegelaat om die seuntjies net daar in
die huis te los, terwyl die versuipte man sy roes lê en afslaap nie. Sy het
vinnig vir die mamma ‘n teks-boodskap met haar selfoon gestuur, die seuntjies
by hul skooltjie besorg, en daarna haar swaar rooi tas saam met haar oor Trafalgar Square gesleep. By die
Gesinsorg-kantoor se deur het sy gaan aanklop. Dit het ure geneem om al die
verklarings af te lê. Sy het steeds gesukkel om die vreemde insluk-aksent van
die Engelse dame te verstaan, maar teen die laatmiddag kon sy met ‘n geruste
hart sien hoe die Maatskaplike Werkster se motor vertrek na die adres waar die
seuntjies se mamma werk.
Sy het lief geword vir die knapies, en die
afgelope nagte in die jeugherberg het sy baiekeer gedink aan die aande, wat die
ou kleinstetjie, by haar bed kom staan het, met sy beertjie teen sy lyfie
vasgedruk.
“Wil jy ‘n klag van aanranding teen die man
lê?”, het die Maatskaplike Werkster gevra. Wat sou dit tog help! Sy wil wat
gebeur het net so gou moontlik vergeet! Gelukkig is sy jonk, en sterk, en kan
baklei soos ‘n tierkat-wyfie. Daai vent sal nog lank die merke op sy gesig moet
verduidelik.
Tinah knyp haar oë toe, om die beelde uit
haar kop te verdryf.
‘Nou, Martinah Lindeque, moet jy jou regruk
en jou Ouma se huis probeer opspoor!’ praat sy met haarself.
Sy
kyk op en af in die straat. Doer oorkant sien sy die enigste nommer sover op ‘n
hekkie. Die 24 is in sierletter op die groen deur vasgesit. Dus sal Ouma se
huis aan die oorkant wees. Lyk soos bult-op, mymer sy, as ‘n dubbeldekker rooi-bus
onnodig vinnig verby haar swiep. Sy sug lank en diep.
‘Ek is net so moeg!’ Sy besluit om
haarself nog ‘n paar minute ruskans op die muurtjie te gun. Die veelkleurige
blommetjies in die hangmandjies en wat langs die muurtjie geplant is, se soet
geur stuur heimwee na haar ma in haar op.
Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug na
die afgelope week. Omdat sy haar ponde moes tel, het sy maar in die stinkende jeugherberg
ingeboek. Die vriedelike Switserse meisie het opgemaak vir die reuke, en
aaklige punk inwoners! Tot sy daar
ook moes vlug! Dit is of sy elke keer die moeilikheid net met ‘n haarbreedte
mis. Sy is dankbaar daarvoor, en bid onwillekeurig dat haar Ouma darem bly sal
wees om haar te sien. Dit is baie jare gelede dat sy haar Ouma laas gesien het.
Die deur van die huis op wie se muurtjie sy
rus, gaan skielik oop en sy kom vervaard orent. Dis ‘n ou verrimpelde tantetjie
wat haar grys wol-kat uitlaat. Sy prewel ‘n verkoning toe die tante haar met ‘n
frons aankyk, maar dan plooi die ou gesig in ‘n glimlag.
“Als
reg, meisie. Ek het gesien jy rus hier op die muur, en het gewonder of ek kan
help.” Die tannie praat ‘n swaar plattelandse
Engels.
“Ag dame, ek sou bly wees as u vir my kan sê
waar nommer 58 Elmstraat is?” Tinah staan effe terug van die muurtjie en klou
haar bagasie styf vas.
“Is jy op soek na Marti Newmeyer? Ja sy bly
in 58. Net drie huise verder, daar aan die oorkant. Sien jy die huis met die
rooi deur? Ja… daar,” beduie die tantetjie met haar rumatiekvinger in die
rigting van haar ouma se huis aan die oorkant. Ook daar hang ‘n mandjie langs
die rooi deur met vrolike pers-blou petunias en lobelias.
Tinah stut haar wieletjies-tas teen haar
been en skud die tantetjie se vereelte ou hand amper te heftig. Met ‘n baie dankie gryp sy haar rooi tas en
mik-mik oor die straat.
“Pasop kindjie, hier moet jy mooi kyk voor
jy oorstap. Die busse en karre kom soms vreeslik vinnig om die draai.”
Die vriendelikheid van die tante na al haar
ontberings, gryp Tinah aan die hart. Met ‘n haastige groet kyk sy twee-keer
heen en weer en loop so vinnig as wat die tas haar toelaat oor die straat. Teen
die tyd dat sy voor die rooi deur staan, merk sy dat die tantetjie van oorkant,
haar gevolg het, en saam met haar wag dat die deur oopgemaak moet word nadat sy
geklop het.
Wanneer die deur oopgaan, staan ‘n waardige
ou dame met witgrys hare voor haar.
Tinah is te oorstelp om iets te sê, en sluk
aan die trane wat in haar opwel. Die dame is ‘n ouer weergawe van haar mammie,
wat klompie jare gelede oorlede is.
Skeefkop luister Marti Newmeyer na haar ou
vriendin se relaas:
“ Die pragtige rooikopmeisie kom rus toe
mos op my muurtjie. Ek hoor toe sy is op soek na jou, Marti, en ek dag ek bring
haar maar selwers na jou toe.”
Die waardige dame kyk skeefkop na Tinah en
dan verskyn daar ‘n lig van herkenning in die ou grysblou oë.
“Martinah? Martinah, is dit werklik jy,
kind?” Haar ouma gee een tree vorentoe
en die volgende oomblik slaan sy haar arms om Tinah, en sy voel ook hoe die
ander tantetjie haar van agter af vashou.
Dan skeur die rou snikke uit Tinah se
tenger lyfie.
Nadat haar snikke bedaar het, trek haar
ouma haar die huis binne, en met ‘n ferm kop-knik, draai die ander tante om en
stap stadig terug oor die straat.
eee
Laatnag, nadat Tinah en Ouma Marti se
gesels leeggeloop het, sit Tinah teen klomp kussings gestut in die oudtydse
vere-bed. Sy drink klein slukkies van die warm sjokolade wat haar ouma vroeër
langs die bed neergesit het. Sy voel veilig en vol vrede. Sy het ‘n dierbare
Ouma, en haar toekoms strek nie meer sonder hoop voor haar uit nie.
Sy plaas die leë beker op die bedkassie, en sien dan
vir die eerstekeer die aanhaling, wat in ‘n raampie op die bedkassie langs haar
staangemaak is:
 |
Een van die straatjies in Chesham wat my skets inspireer het.© |
“U Bewaar my soos U oogappel;
U verberg my in die skaduwee van U vleuels.”
1,260 woorde
(My eie foto ©)