Thursday, 18 July 2013

lied van ’n psalm©          deur de villiers-serfontein            (na  Psalm 73:25 & 26... Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U   begeer ek ook niks op die aarde nie.  Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.)

Soos die paddas wag op reën, uit U hemel , my God
so wag ook my siel op U reën
                                U seën
                                U hulp
                                my God!
By wie anders as U kan ek my behoeftes uitstort?
My behoefte aan die skoonheid van poësie
                                                  musiek
                                                  fyn kuns
                                                  gemeensaamheid?
Heer, as ek, stofverwaaide griet
                           deurmekaar
                             moedeloos
                                 verward
                                     bang
                            bekommerd
vannaand dit voor u uitsug
dan weet ek dat
al beswyk my vlees en my hart
U sal my lei deur U raad
en my daarna in heerlikheid opneem
                                    want
wie het ek buiten U in die hemel?

                                                      1992.09.20
straatkinders©   deur : de villiers-serfontein

waarin het jy jou verdwaal
klein bruinlies gutterkind?
in Hillbrowblues
of ooptoonshoes…

waarin is jou menswees heen
jou gomlym snuifkind?
in sopkombuis
of plastiekhuis…

ek’t verdwaal, my ma
in glaspyp,
bedel,
eni koue pyl
van rassehaat

                      2001
In die skaduwee. ©
Deur:  de Villiers -Serfontein
‘n skets

Chesham, Engeland


Tinah strompel die bult uit en gaan staan uitasem by die klipgeboude muurtjie. Sy stut haar groot wieletjies-tas teen die heup-hoogte muur en neem ‘n oomblik om noukeurig haar hele omgewing in te neem. Elmstraat 58 het die man by die Suid Afrikaanse Ambassade gesê.
Die ou Victoriaanse huisies sit sy-aan-sy langs mekaar ingepak, weerskante van die straat, tot om die draai. Die skoorstene staan soos rye torinkies afge-ets teen die ylblou lug. Sy is dankbaar om blou lug te sien, want vandat sy uit Suid Afrika op Heathrow-lughawe geland het, was daar maar min sonskyndae. En in die mistroostige strate van Londen of in die moltrein gange, sien jy in elk geval min son!
Die afgelope ses maande, terwyl sy au-pair het vir drie onnutsige Engelse seuntjies, het sy ook weinig kans gehad om regtig eers te soek vir ‘n sonkolletjie. Saans was sy so moeg, dat daar van pret en uitgaan geen sprake was nie. Darem het sy feitlik niks van haar hardverdiende ponde uitgegee nie. Haar dae was gevul met die lekker lag (of huil) van die seuntjies, maar toe hulle knaende stiefpa haar lewe begin vergal het, het sy na een riller van ‘n nag, haar goedjies in haar rooi tas ingegooi, en die volgende môre, op die vlug geslaan.
Deur haar eie pa, ingedrilde verantwoordelikheid, het sy haarself nie toegelaat om die seuntjies net daar in die huis te los, terwyl die versuipte man sy roes lê en afslaap nie. Sy het vinnig vir die mamma ‘n teks-boodskap met haar selfoon gestuur, die seuntjies by hul skooltjie besorg, en daarna haar swaar rooi tas saam met haar oor Trafalgar Square gesleep. By die Gesinsorg-kantoor se deur het sy gaan aanklop. Dit het ure geneem om al die verklarings af te lê. Sy het steeds gesukkel om die vreemde insluk-aksent van die Engelse dame te verstaan, maar teen die laatmiddag kon sy met ‘n geruste hart sien hoe die Maatskaplike Werkster se motor vertrek na die adres waar die seuntjies se mamma werk.
Sy het lief geword vir die knapies, en die afgelope nagte in die jeugherberg het sy baiekeer gedink aan die aande, wat die ou kleinstetjie, by haar bed kom staan het, met sy beertjie teen sy lyfie vasgedruk.
“Wil jy ‘n klag van aanranding teen die man lê?”, het die Maatskaplike Werkster gevra. Wat sou dit tog help! Sy wil wat gebeur het net so gou moontlik vergeet! Gelukkig is sy jonk, en sterk, en kan baklei soos ‘n tierkat-wyfie. Daai vent sal nog lank die merke op sy gesig moet verduidelik.
Tinah knyp haar oë toe, om die beelde uit haar kop te verdryf.
‘Nou, Martinah Lindeque, moet jy jou regruk en jou Ouma se huis probeer opspoor!’ praat sy met haarself.
 Sy kyk op en af in die straat. Doer oorkant sien sy die enigste nommer sover op ‘n hekkie. Die 24 is in sierletter op die groen deur vasgesit. Dus sal Ouma se huis aan die oorkant wees. Lyk soos bult-op, mymer sy, as ‘n dubbeldekker rooi-bus onnodig vinnig verby haar swiep. Sy sug lank en diep.
‘Ek is net so moeg!’  Sy besluit om haarself nog ‘n paar minute ruskans op die muurtjie te gun. Die veelkleurige blommetjies in die hangmandjies en wat langs die muurtjie geplant is, se soet geur stuur heimwee na haar ma in haar op.
Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug na die afgelope week. Omdat sy haar ponde moes tel, het sy maar in die stinkende jeugherberg ingeboek. Die vriedelike Switserse meisie het opgemaak vir die reuke, en aaklige punk inwoners! Tot sy daar ook moes vlug! Dit is of sy elke keer die moeilikheid net met ‘n haarbreedte mis. Sy is dankbaar daarvoor, en bid onwillekeurig dat haar Ouma darem bly sal wees om haar te sien. Dit is baie jare gelede dat sy haar Ouma laas gesien het.
Die deur van die huis op wie se muurtjie sy rus, gaan skielik oop en sy kom vervaard orent. Dis ‘n ou verrimpelde tantetjie wat haar grys wol-kat uitlaat. Sy prewel ‘n verkoning toe die tante haar met ‘n frons aankyk, maar dan plooi die ou gesig in ‘n glimlag.
“Als reg, meisie. Ek het gesien jy rus hier op die muur, en het gewonder of ek kan help.” Die tannie praat ‘n swaar plattelandse Engels.
“Ag dame, ek sou bly wees as u vir my kan sê waar nommer 58 Elmstraat is?” Tinah staan effe terug van die muurtjie en klou haar bagasie styf vas.
“Is jy op soek na Marti Newmeyer? Ja sy bly in 58. Net drie huise verder, daar aan die oorkant. Sien jy die huis met die rooi deur? Ja… daar,” beduie die tantetjie met haar rumatiekvinger in die rigting van haar ouma se huis aan die oorkant. Ook daar hang ‘n mandjie langs die rooi deur met vrolike pers-blou petunias en lobelias.
Tinah stut haar wieletjies-tas teen haar been en skud die tantetjie se vereelte ou hand amper te heftig. Met ‘n baie dankie gryp sy haar rooi tas en mik-mik oor die straat.
“Pasop kindjie, hier moet jy mooi kyk voor jy oorstap. Die busse en karre kom soms vreeslik vinnig om die draai.”
Die vriendelikheid van die tante na al haar ontberings, gryp Tinah aan die hart. Met ‘n haastige groet kyk sy twee-keer heen en weer en loop so vinnig as wat die tas haar toelaat oor die straat. Teen die tyd dat sy voor die rooi deur staan, merk sy dat die tantetjie van oorkant, haar gevolg het, en saam met haar wag dat die deur oopgemaak moet word nadat sy geklop het.
Wanneer die deur oopgaan, staan ‘n waardige ou dame met witgrys hare voor haar.
Tinah is te oorstelp om iets te sê, en sluk aan die trane wat in haar opwel. Die dame is ‘n ouer weergawe van haar mammie, wat klompie jare gelede oorlede is.
Skeefkop luister Marti Newmeyer na haar ou vriendin se relaas:
“ Die pragtige rooikopmeisie kom rus toe mos op my muurtjie. Ek hoor toe sy is op soek na jou, Marti, en ek dag ek bring haar maar selwers na jou toe.”
Die waardige dame kyk skeefkop na Tinah en dan verskyn daar ‘n lig van herkenning in die ou grysblou oë.
“Martinah? Martinah, is dit werklik jy, kind?”  Haar ouma gee een tree vorentoe en die volgende oomblik slaan sy haar arms om Tinah, en sy voel ook hoe die ander tantetjie haar van agter af vashou.
Dan skeur die rou snikke uit Tinah se tenger lyfie.
Nadat haar snikke bedaar het, trek haar ouma haar die huis binne, en met ‘n ferm kop-knik, draai die ander tante om en stap stadig terug oor die straat.
eee
Laatnag, nadat Tinah en Ouma Marti se gesels leeggeloop het, sit Tinah teen klomp kussings gestut in die oudtydse vere-bed. Sy drink klein slukkies van die warm sjokolade wat haar ouma vroeër langs die bed neergesit het. Sy voel veilig en vol vrede. Sy het ‘n dierbare Ouma, en haar toekoms strek nie meer sonder hoop voor haar uit nie.




Sy plaas die leë beker op die bedkassie, en sien dan vir die eerstekeer die aanhaling, wat in ‘n raampie op die bedkassie langs haar staangemaak is:
Een van die straatjies in Chesham wat my skets inspireer het.©
“U Bewaar my soos U oogappel; U verberg my in die skaduwee van U vleuels.”

1,260 woorde


(My eie foto ©)
taxirank  ©                                         de villiers-serfontein
                        17.09. 1991
ek
staar jul aan
ry op ry
wag
slaap
eet
wag
honger
om met jul beurt
die wit ‘brood’ vol te prop
wiele wat jul
huistoe
werktoe vat

ek
ry seepglad verby
gerieflik toe
in silwerkapsule
hoor
geswets
aghé
kwéla
kindgekerm

ek
sien
swaarkrylyne
kopdoeke,
styfgepakte checkers
mondjie
suigend aan ’n bors

jy
sou ook wou
per
luukse limousine
limonade en likeur
op ys
tuis wou kom