Sunday, 6 October 2013

Ou Kliphuis ©De Villiers-Serfontein


Ou Kliphuis

                   (met erkenning aan Dawid van die Psalms

                                                     en G.A. Watermeyer) ©De Villiers-Serfontein

Het ek reg gehoor

toe jy vroegaand vir my fluister

dat jy weet

jy is my

                   tentwoning

                   spelonk

vier mure teen die suidewind

 

Die wind speel soms sag

soms woes in jou

gras-geel hare

en ek weet

met veroudering

bring dit net meer vertedering

 

Jou blou-grys loodglas oë

blink na die reën soos

ongestorte trane

                   of wasemdruppels

-         as ons binne, storms van

emosie, liefde, woede

saam beleef

 

Steeds kan die kliphard

koue mure

gladnie die voëlgesang

of lentelied van sonhelder gras

en vreugdeberg uitsluit

en winteraande kniel

ons saam

by kers om Hom te dank

-         ’n lied

Ebenhaeser 1992