Sunday, 8 September 2013

trap fyn

trap fyn ©    deur De Villiers-Serfontein

hul noem dit skryfseltjies -
ek noem dit wel my siel
wat oorloop soms,
of drup dit net 
steeds is dit nie
veldiep

trap fyn my vrind, versigtig tog
as jy oor siels-goed loop
of net kom lees
of kuier dan
is jy tog welkom hier

dan deel ons dalk
'n glasie rooi
of geurig kruie-tee

en draai 'n woord of strofe om
soos vleisie op die vuur

want of ek tong-in-kies kom deel
of patos woord kom ruil
bly steeds my hartswoord kosbaar goud
wat staan as stof vergaan

in eter of op stok-ou blad
op lug of duur papier
bly steeds my nalaat-woorde daar
al is ek nie meer hier

   19.11.13

Plaasvolkies©               deur De Villiers-Serfontein (1993- Ebenhaeser)

                 ’n eengesprek

miskien sou jul tog nie

wou hê

ek moet jul volkies noem

            maar

van kleintyd was dit maar

dié naam wat Oupa sê

as hy wou hê

julle moet iets vir hom doen

 

ja, ek praat die afrikaanse taal

is dit...

                   die onderdrukker-taal?

                   die helpendehand-taal?

                   die boerswetsende-taal?

                   die evangeliedeel-taal?

                                               rym dit ooit?

sal julle nog na my luister?

 

steeds

kan ek jul gelukkig noem

stertrieme suurmelk stronkevuur shesheba

poetoepap pasella

miesies se meresyn

haasvleis ketties kresmis

 

saam kry ons swaar
 
                                    as droogte brande kom

saam staan jul bakhand by die bank

met die boer

                         as die pula nie kom

 

en saans

as diepdrom ritmies klink

kniel ons wel

voor dieselfde god...?

 

wat weet ek van jul

hartseer en pyn

sal dit help

as ek jul sê

jul het my lewe

soo verryk?!