Saturday, 16 November 2013

Faebook ( Bakkiesblad) ;-)

Kyk ook gerus na De Villiers-Serfontein se Bakkiesblad  asook die blad van Oaselokval (facebook page), geniet die lees daar - en gee my 'n duimpie as jy daarvan hou! 
Ek ontvang graag opbouende kritiek, en lekker geselsnotas. Nooi my uit as motiveringspreker of om 'n skool of leeskring / boekklub te besoek. :-) 




Sipreslaanmense


Sipreslaanmense ©        de Villiers-Serfontein     1993.11.10

 

so staan julle

sy aan sy

                  huigelaars!

kil verdoemend regop

stil uitdagend

                  klipgooiers!

en oordeel oor my trane

 

wat weet jul tog

van al my pyn

                  vertwyfeling

                  vrees  

   verlange                     

Sunday, 6 October 2013

Ou Kliphuis ©De Villiers-Serfontein


Ou Kliphuis

                   (met erkenning aan Dawid van die Psalms

                                                     en G.A. Watermeyer) ©De Villiers-Serfontein

Het ek reg gehoor

toe jy vroegaand vir my fluister

dat jy weet

jy is my

                   tentwoning

                   spelonk

vier mure teen die suidewind

 

Die wind speel soms sag

soms woes in jou

gras-geel hare

en ek weet

met veroudering

bring dit net meer vertedering

 

Jou blou-grys loodglas oë

blink na die reën soos

ongestorte trane

                   of wasemdruppels

-         as ons binne, storms van

emosie, liefde, woede

saam beleef

 

Steeds kan die kliphard

koue mure

gladnie die voëlgesang

of lentelied van sonhelder gras

en vreugdeberg uitsluit

en winteraande kniel

ons saam

by kers om Hom te dank

-         ’n lied

Ebenhaeser 1992

Saturday, 21 September 2013

Reënboognasiespel


Reënboognasiespel©  de Villiers-Serfontein

 


dis twaalf jaa late

dit reent oor eersterus

dit sif deurie sinkdak

waa sou my r.d.p. hys dan wies?

 

ingesluk deurie omies

en groot dik  tannies

innie benz of s.u.v.-blink

wat ommie draaie swenk?

 

ek wag virrie taxi

onner reënboogsambreel

te gan na my teachingjob

waavoo hille nie betaal

 

ek probeerie kinners leer

van nasiebou en kie

vannie vryhyt waavoo ons

hille wou bekeer

 

ek leer hille optel

van een en een is twie

maarie som willie kloppie

as die dreine toeswel

 

ek leer hil vannie

govermint en reg en g’regtigheit

ma wat moet ek hille antwoort

as hil vra waas die broot?

 

ek leer hille nuwe woode spel

soos rainbownastion en wealth

ma wat my rêrig kwel

is waas dit heen my pêl?

                                                           Pretoria 2006

selle taal


selle taal©    deur: De Villiers-Serfontein



thx virrie text

waa was j gister

by pêlle

kry j more by d mall

 

hopit gan goed

 is j nog weg

seke nog ve 2 weke

wanne ko kuier j?

lievde ;-)

 

wa issie str wa j va praat?

Draai b d 2 e hoek

 ,,, 
 (‘‘)  koe-wie!
 <[]>

het j d plek gkry?

watte plek

 
ekt vedwaal
praat ons dan nou nog

dieselle taal?

 

 

 

 

Timmermanshuis


Timmermanshuis©


                   (’n plakkerskind peins)                      de villiers-serfontein


 

stofomgewe

sit ek op my klipstoel

 

en staar

 

hier en daar

waai ’n tjekkerssak

en hoor ek maters skree

 

’n warrelwind

draai skielik straataf

 

’n blaf

van ’n hond aan ’n tou

klink lui in die

namiddagstof

en tussen hoendergepik

en sinkplate

kletter

in saamgeflansde

houtlapkarton

 

die aandkoue begin

slaan reeds

in my rugmurg op

 

Jesus, waarom was Jy

dan met jou

timmermanshuis

tevrede?

 

 

Sunday, 8 September 2013

trap fyn

trap fyn ©    deur De Villiers-Serfontein

hul noem dit skryfseltjies -
ek noem dit wel my siel
wat oorloop soms,
of drup dit net 
steeds is dit nie
veldiep

trap fyn my vrind, versigtig tog
as jy oor siels-goed loop
of net kom lees
of kuier dan
is jy tog welkom hier

dan deel ons dalk
'n glasie rooi
of geurig kruie-tee

en draai 'n woord of strofe om
soos vleisie op die vuur

want of ek tong-in-kies kom deel
of patos woord kom ruil
bly steeds my hartswoord kosbaar goud
wat staan as stof vergaan

in eter of op stok-ou blad
op lug of duur papier
bly steeds my nalaat-woorde daar
al is ek nie meer hier

   19.11.13

Plaasvolkies©               deur De Villiers-Serfontein (1993- Ebenhaeser)

                 ’n eengesprek

miskien sou jul tog nie

wou hê

ek moet jul volkies noem

            maar

van kleintyd was dit maar

dié naam wat Oupa sê

as hy wou hê

julle moet iets vir hom doen

 

ja, ek praat die afrikaanse taal

is dit...

                   die onderdrukker-taal?

                   die helpendehand-taal?

                   die boerswetsende-taal?

                   die evangeliedeel-taal?

                                               rym dit ooit?

sal julle nog na my luister?

 

steeds

kan ek jul gelukkig noem

stertrieme suurmelk stronkevuur shesheba

poetoepap pasella

miesies se meresyn

haasvleis ketties kresmis

 

saam kry ons swaar
 
                                    as droogte brande kom

saam staan jul bakhand by die bank

met die boer

                         as die pula nie kom

 

en saans

as diepdrom ritmies klink

kniel ons wel

voor dieselfde god...?

 

wat weet ek van jul

hartseer en pyn

sal dit help

as ek jul sê

jul het my lewe

soo verryk?!

 

 

Saturday, 31 August 2013

Vir my Y'shua

Vir my Y'SHUA     ©  
                         deur De Villiers-Serfontein
Jerusalem 2002

... toe ek oor Jerusalem
uitkyk
het ek
soos JY
gehuil
...by die Kotel
toe ek die swart gewade sien wieg...

wou ek
rou
oor hulle JOU nie
ken nie

... maar die Challahs
en Minorah
het my JOU Joodsheid
laat
liefkry
soos my eie
Bruidegom

gebreekte fles

©

gebreekte fles©        de Villiers-serfontein
skerp skerwe
stukke
skywe
lê oral rond
die lewensfles gebreek
tot grond en klei
… tog, in Pottebakkershand
raak stil...

vou om die kern
beskerm

sal U kan soek
en meet en pas
om regte hoekies
in te las?
met watter gom
sou U die lewensskerwe
vas wou lym?
om sonder merk of kraak
my heel te maak!



My God!
is krake, merke, letsels
fles
nog bruikbaar in U diens?

tog wéét ek Heer,
… U liefde is oneindig groot!


Ebenhaéser 1994
                    ....  na aanleiding van Jeremia 18:4-6  en Romeine 9:21                  
                                                                                                                   ©

soektog

Soektog    ©   de Villiers Serfontein

ek smag
en roep
en soek jou
in die wind
en tussen blomme
gras
en bome

maar net betonmurasies
staar my aan
met donker
koue oë
en stadsrumoer
wek my
weer uit my drome              
 
                       Bloemfontein 1972

SY MANTELJAS

SY MANTELJAS ©  de Villiers-Serfontein

November 3, 2012 at 8:52am
Handelinge 12:8
En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!

Hy gee my
die mantel van vreugde
om te dans
in Sy strate
en te deel
met
honger harte
die mantel van
sy vreugde
om my toe te maak
in die donker
en in lig
of pyn
reën
of skyn

versteek nie jou mantel
in gemakzoon
of kas
gebruik dit
verdring
las
van mense

…met jou vreugdejas

                                    28.11.2001

Saturday, 17 August 2013


Ou Kalander©

                            (opgedra aan die Tsitsikamma-bos. Nature's Valley1994.07.06)

mosbelaaide stamme van

                        oer-ou-bos

blink geel dan swart

soos skadu’s sonlig

wieg

 

douswaar varings

ry-op-ry

in leem swart grond

waar muwwe klam reuk

hang

 

ek hoor die heil’ge stilte

opklink tussen

stam en tak

-         en luister

drink

die vrede in

verlang

na U

my God!

 

ek stap

en rus

en sien

die dik stam by my voet

-         en kyk op

en op

tot teen die

blou-blou lug

 

my asem snak!

hoe sterk is jy!

 

Kalander my ou vriend

sal jy my tog vertel

hoe jy so hoog en sterk

na God se hemel

uit kon reik

so lowergroen

so rysig lieflik

staan jy daar

 

die antwoord is eenvoudig

maat

my voete sterk geanker

hier in die regte grond

-         tóg, donker skadu’s

van die bos

het my nie ondermyn

ek groei

en reik

en strek

na lig daarbo!

 

* * *

so styg ek uit en

kan nou vér

kyk

oor bome

bos

en see

my kroon kry Lig

my voete

stewig

ge-anker in Sy Woord

ek werk

vir Hom

        … vir ewig!             De Villiers-Serfontein