Ou Kliphuis
(met
erkenning aan Dawid van die Psalms
en G.A. Watermeyer) ©De Villiers-Serfontein
Het ek reg gehoor
toe jy vroegaand vir my fluister
dat jy weet
jy is my
tentwoning
spelonk
vier mure teen die suidewind
Die wind speel soms sag
soms woes in jou
gras-geel hare
en ek weet
met veroudering
bring dit net meer vertedering
Jou blou-grys loodglas oë
blink na die reën soos
ongestorte trane
of
wasemdruppels
-
as ons binne, storms van
emosie, liefde, woede
saam beleef
Steeds kan die kliphard
koue mure
gladnie die voëlgesang
of lentelied van sonhelder gras
en vreugdeberg uitsluit
en winteraande kniel
ons saam
by kers om Hom te dank
-
’n lied
Ebenhaeser
1992
No comments:
Post a Comment