Reënboognasiespel© de Villiers-Serfontein
dis twaalf jaa late
dit reent oor eersterus
dit sif deurie sinkdak
waa sou my r.d.p. hys dan wies?
ingesluk deurie omies
en groot dik tannies
innie benz of s.u.v.-blink
wat ommie draaie swenk?
ek wag virrie taxi
onner reënboogsambreel
te gan na my teachingjob
waavoo hille nie betaal
ek probeerie kinners leer
van nasiebou en kie
vannie vryhyt waavoo ons
hille wou bekeer
ek leer hille optel
van een en een is twie
maarie som willie kloppie
as die dreine toeswel
ek leer hil vannie
govermint en reg en g’regtigheit
ma wat moet ek hille antwoort
as hil vra waas die broot?
ek leer hille nuwe woode spel
soos rainbownastion en wealth
ma wat my rêrig kwel
is waas dit heen my pêl?
Pretoria
2006