Friday, 30 December 2016

Uittreksel uit LOKVAL 1

"Edmund buk onder die donker skaduwees van bome en
struike deur. Hy koes soms vir ’n oorhangende tak en
verwens die digte bosse wat meestal die dowwe maan-
lig uitblok. Sy arms en bene jeuk en brand waar die
simpel Naboomdorings hom gekrap het. Hy hurk
momenteel in die donker skadu van ’n Kierieklapper-
boom.
Die ligte wind waai uit die rigting van die rivier daar
doer onder en roer die ronde vrugte heen en weer. Hy
is dankbaar vir sy jag- en weermagdae, waar hy geleer
het om altyd onderkant die wind te bly as jy bekruip.
Hy sluip verder. Hy bereik die rivierbedding, maar bly
versigtig tussen die bosse staan. Al langs die rivier
strek ’n breë sandbank wat wit en oop in die maanlig lê.


Selfs die paddas is nou doodstil. ’n Krokodil storm
skielik met ’n woeste stertgeflap uit die riete langs die
sandbank tot in die water. Edmund gryp na die pistool
onder sy blad. Sy hart klop teen ’n woeste spoed.

Wat sou die krokodil se slaap versteur het? Hy luister
fyn na enige vreemde naggeluide, maar die bos is
doodstil. Té stil. Hy tuur weer na die silhouet van die
bosrand. Verbeel hy hom of is daar ’n ekstra knoets
daar links, net waar die maan flussies agter die Wilde-
seringboom ingeskuif het?

Dan hoor hy die roep van ’n naguiltjie. Tjir-tjier-t-j-
ieeer, tjir-tjier-t-j-ieeer. Net twee maal, dan is die bos
weer grafstil. Hy antwoord met dieselfde voëlroep, twee
maal. Wag dan snaarstyf op ’n antwoord. Vir té lank is
daar geen antwoord nie. Sou dit ’n regte naguil wees
wat geroep het? Hy byt die binnekant van sy wang so
hard vas dat hy bloed proe. Minute tik verby.

Skielik vat ’n hand sy skouer van agter vas en pluk
hom om. ’n Ander hand sluit vas oor sy mond en trek
sy kop na agter dat dit voel of sy strot afruk. Die pols
van sy hand, wat willekeurig na sy pistool gegryp het,
word in ’n ystervuis vasgeklem. "


Saturday, 16 November 2013

Faebook ( Bakkiesblad) ;-)

Kyk ook gerus na De Villiers-Serfontein se Bakkiesblad  asook die blad van Oaselokval (facebook page), geniet die lees daar - en gee my 'n duimpie as jy daarvan hou! 
Ek ontvang graag opbouende kritiek, en lekker geselsnotas. Nooi my uit as motiveringspreker of om 'n skool of leeskring / boekklub te besoek. :-) 




Sipreslaanmense


Sipreslaanmense ©        de Villiers-Serfontein     1993.11.10

 

so staan julle

sy aan sy

                  huigelaars!

kil verdoemend regop

stil uitdagend

                  klipgooiers!

en oordeel oor my trane

 

wat weet jul tog

van al my pyn

                  vertwyfeling

                  vrees  

   verlange                     

Sunday, 6 October 2013

Ou Kliphuis ©De Villiers-Serfontein


Ou Kliphuis

                   (met erkenning aan Dawid van die Psalms

                                                     en G.A. Watermeyer) ©De Villiers-Serfontein

Het ek reg gehoor

toe jy vroegaand vir my fluister

dat jy weet

jy is my

                   tentwoning

                   spelonk

vier mure teen die suidewind

 

Die wind speel soms sag

soms woes in jou

gras-geel hare

en ek weet

met veroudering

bring dit net meer vertedering

 

Jou blou-grys loodglas oë

blink na die reën soos

ongestorte trane

                   of wasemdruppels

-         as ons binne, storms van

emosie, liefde, woede

saam beleef

 

Steeds kan die kliphard

koue mure

gladnie die voëlgesang

of lentelied van sonhelder gras

en vreugdeberg uitsluit

en winteraande kniel

ons saam

by kers om Hom te dank

-         ’n lied

Ebenhaeser 1992

Saturday, 21 September 2013

Reënboognasiespel


Reënboognasiespel©  de Villiers-Serfontein

 


dis twaalf jaa late

dit reent oor eersterus

dit sif deurie sinkdak

waa sou my r.d.p. hys dan wies?

 

ingesluk deurie omies

en groot dik  tannies

innie benz of s.u.v.-blink

wat ommie draaie swenk?

 

ek wag virrie taxi

onner reënboogsambreel

te gan na my teachingjob

waavoo hille nie betaal

 

ek probeerie kinners leer

van nasiebou en kie

vannie vryhyt waavoo ons

hille wou bekeer

 

ek leer hille optel

van een en een is twie

maarie som willie kloppie

as die dreine toeswel

 

ek leer hil vannie

govermint en reg en g’regtigheit

ma wat moet ek hille antwoort

as hil vra waas die broot?

 

ek leer hille nuwe woode spel

soos rainbownastion en wealth

ma wat my rêrig kwel

is waas dit heen my pêl?

                                                           Pretoria 2006

selle taal


selle taal©    deur: De Villiers-Serfontein



thx virrie text

waa was j gister

by pêlle

kry j more by d mall

 

hopit gan goed

 is j nog weg

seke nog ve 2 weke

wanne ko kuier j?

lievde ;-)

 

wa issie str wa j va praat?

Draai b d 2 e hoek

 ,,, 
 (‘‘)  koe-wie!
 <[]>

het j d plek gkry?

watte plek

 
ekt vedwaal
praat ons dan nou nog

dieselle taal?

 

 

 

 

Timmermanshuis


Timmermanshuis©


                   (’n plakkerskind peins)                      de villiers-serfontein


 

stofomgewe

sit ek op my klipstoel

 

en staar

 

hier en daar

waai ’n tjekkerssak

en hoor ek maters skree

 

’n warrelwind

draai skielik straataf

 

’n blaf

van ’n hond aan ’n tou

klink lui in die

namiddagstof

en tussen hoendergepik

en sinkplate

kletter

in saamgeflansde

houtlapkarton

 

die aandkoue begin

slaan reeds

in my rugmurg op

 

Jesus, waarom was Jy

dan met jou

timmermanshuis

tevrede?