Friday, 30 December 2016

Uittreksel uit LOKVAL 1

"Edmund buk onder die donker skaduwees van bome en
struike deur. Hy koes soms vir ’n oorhangende tak en
verwens die digte bosse wat meestal die dowwe maan-
lig uitblok. Sy arms en bene jeuk en brand waar die
simpel Naboomdorings hom gekrap het. Hy hurk
momenteel in die donker skadu van ’n Kierieklapper-
boom.
Die ligte wind waai uit die rigting van die rivier daar
doer onder en roer die ronde vrugte heen en weer. Hy
is dankbaar vir sy jag- en weermagdae, waar hy geleer
het om altyd onderkant die wind te bly as jy bekruip.
Hy sluip verder. Hy bereik die rivierbedding, maar bly
versigtig tussen die bosse staan. Al langs die rivier
strek ’n breë sandbank wat wit en oop in die maanlig lê.


Selfs die paddas is nou doodstil. ’n Krokodil storm
skielik met ’n woeste stertgeflap uit die riete langs die
sandbank tot in die water. Edmund gryp na die pistool
onder sy blad. Sy hart klop teen ’n woeste spoed.

Wat sou die krokodil se slaap versteur het? Hy luister
fyn na enige vreemde naggeluide, maar die bos is
doodstil. Té stil. Hy tuur weer na die silhouet van die
bosrand. Verbeel hy hom of is daar ’n ekstra knoets
daar links, net waar die maan flussies agter die Wilde-
seringboom ingeskuif het?

Dan hoor hy die roep van ’n naguiltjie. Tjir-tjier-t-j-
ieeer, tjir-tjier-t-j-ieeer. Net twee maal, dan is die bos
weer grafstil. Hy antwoord met dieselfde voëlroep, twee
maal. Wag dan snaarstyf op ’n antwoord. Vir té lank is
daar geen antwoord nie. Sou dit ’n regte naguil wees
wat geroep het? Hy byt die binnekant van sy wang so
hard vas dat hy bloed proe. Minute tik verby.

Skielik vat ’n hand sy skouer van agter vas en pluk
hom om. ’n Ander hand sluit vas oor sy mond en trek
sy kop na agter dat dit voel of sy strot afruk. Die pols
van sy hand, wat willekeurig na sy pistool gegryp het,
word in ’n ystervuis vasgeklem. "